Description
“Daar was mense wat hul lewe gegee het om apartheid te vernietig. Daar was mense wat enduit geglo het in vreedsame verset; daar was mense wat geglo het dat geweld al is wat oorbly om iets mensliks uit die moeras te red.”
Die kreef raak gewoond daaraan is die verhaal van Thomas Landman, ‘n Afrikaner wat ‘n uiterste daad van geweld pleeg in ‘n desperate pogong om die owerheid tot sy sinne te bring. Die bomaanval waarmee sy groep die Staatspresident om die lewe wil bring, loop skeef, en onskuldige mense se lewe word geneem. ln Thomas se daaropvolgende vlugtog lê Brink die Suid-Afrikaanse gemeenskap, en veral die Afrikanergemeenskap, in al sy diepste geledinge oop: deernisvol en verraderlik, koesterend en korrup, idealisties en koersloos.
Dit word ‘n reis deur die breë geografie en geskiedenis van die land, en ‘n herskrywing van beide. Tegelyk is dit ‘n avontuurverhaal waarin die perspektief van Thomas se jagter en teenspeler, brigadier Kat Bester van die Veiligheidspolisie, beurtelings vooropstaan. Maar dit is ook ‘n verhaal van menslike verhoudinge wat rondom Thomas voltrek word: met Nina, die jong vrou wat saam met hom aan die bomaanslag deelneem; met die predikantsdogter Lisa wat in opstand is teen ‘n ander soort onderdrukking, dié van die vrou; met die talle ander, swart en bruin en wit, met wie hy op sy vlug in aanraking kom.
Agter alles skemer die geskiedenis van Thomas se stam, wat as ‘n supplement in die roman opgeneem is en n swewende teenwoordigheld daarin vorm — die dertien generasies van ‘n familie wat as die verteenwoordigers van die Kaap se woeste beskermgees, Adamstor, voorgestel word, elkeen op sy of haar eie manier betrokke by die magte van liefde en geweld, elkeen verplig om te reageer op die uitdaging van oorlewing in Afrika.
Die roman is groots in opset, en in Brink se deurtastende voorstelling van Suid-Afrikaners en die Suid-Afrikaanse problematiek verkry die roman in alle opsigte ‘n monumentale dimensie binne Brink se oeuvre.